|
'Ons erken
Satan nie - hy is 28 000 jaar jonger as ons gode'
Die seremonie begin laat -
omtrent 'n uur later as the beoogde tyd, want van die hekse is
laat. En daar moet gewag word vir almal.
Daar is niks sinisters aan dié
besluit nie. Dis bloot hoflikheid om mense wat nog nie voorheen
by die perseel was nie kans te gee om op te daag.
Die aanwesiges - uiteindelik is
daar sowat 50 mense - woon die seremonie by om deel te neem aan
die inwyding van die Aquarian Tabernacle Church (ATC). En om
Storm Dancer, die nuwe leier van die Gautengse kapel van die
Pagan Federation of South Africa (PFSA) en sy vrou, Willow
Weaver, in te seën.
Hulle neem die leisels oor by
Darkwolf, 'n fyn vroutjie wat die afgelope sowat sewe jaar die
geestelike leier van Paganiste regoor Suid-Afrika is
Sy verlaat Gauteng later
vandeesweek om as geestelike leier vanuit Kaapstad die boodskap
van Wicca en Paganisme te versprei.
Daar word na Darkwolf verwys as
reverend.
Ná die inwydingseremonie sal
Storm Dancer ook as reverend aangespreek word.
"Ons wil graag nouer
samewerking met ander godsdienstige groepe hê. Dié bekende
term wys vir mense van ander godsdienste dat ons reverends op
dieselfde vlak as hulle s'n is," verduidelik Storm Dancer.
Die meeste hekse is Afrikaans.
Maar hulle praat hoofsaaklik Engels omdat daar nog nie
Afrikaanse terme vir die eeue oue rituele is nie.
Voordat die seremonie begin,
kuier die hekse eers. Die rookwolke van verskeie sigarette
dwarrel deur die lug. Daar is mans en vroue in blou, wynrooi en
wit togas. Met sigaret in die een hand, wynglas in die ander
bespreek hulle allerlei sake.
Dus: 'n groep wat 'n mens
waarskynlik by enige partytjie sou teëkom. Behalwe dat hul
togas nie juis die sort klere is wat jy by die gemiddelde
partytjie sien nie. En ja, van hulle lyk ietwat vreemd, met
groot bosse pikswart hare en eienaardige juweliersware aan hul
vingers en arms.
'n Pentagram pryk ook om elkeen
se nek. Dis 'n belangrike simbool vir Paganisme. Die
inwydingsrituele vind dan ook later plaas in 'n pentagram wat op
die gras getrek is
Dié vyfhoekige ster (met een
punt wat na boontoe wys) is al jare lank die simbool van Paganisme.
Maar dit word deur oningewydes as 'n satanistiese simbool
beskou.
Soos met talle simbole die geval
is, is ook dié simbool oor die jare op verskeie maniere
vertolk. Kort ná Christus se kruisdood was die vyf punte
byvoorbeeld simbolies van die vyf wonde van Jesus aan die kruis.
Eers later het die omgekeerde pentagram simbolies geword van die
duiwel en is dit met boosheid verbind.
Die perseel in Houghton Estate
behoort aan een van die lede van die PFSA. Paganisme is 'n
oorkoepelende term wat gebruik word om verskillende alternatiewe
godsdienste saam te snoer, soos Wicca, sjamanisme, Druidisme,
Noorse rituele en vele ander.
Hoewel die inwydingseremonie van
die ATC dié van 'n Wicca-kerk is, word alle individue wat
hulself as Paganiste beskou hier verwelkom.
Maar wat is Wicca? Eenvoudig
gestel is dit 'n term wat gebruik word om 'n sekere sort
hedendaagse hekse en towerkrag te beskryf.
Die bestaan van sogenaamde hekse
kan teruggevoer word na matriargale stelsels wat dagteken van 30
000 v.C tot ongeveer 2 500 v.C. In dié gemeenskappe is wyse
vroue en die natuur vereer. Die opkoms van die patriargie het
egter vrees vir dié vroue aangewakker en van die Renaissance
tot in die 18de eeu is letterlik op hulle jag gemaak. Talle
vroue wat "vreemd" was, het op brandstapels beland of
is in riviere gegooi met swaar gewigte aan hulle vasgemaak.
As godsdiens is Wicca, luidens
'n beskrywing op die internet
(religioustolerance.org/wic_hist.htm), deels gegrond op antiekePaganistiese
gebruike uit Noord-Europa.
Wiccans aanbid 'n godin en 'n
god, waarna Darkwolf en haar volgelinge verwys as Our Lady en
Our Lord. "Dit is generiese terme wat 'n godheid
aandui," verduidelik sy.
Howel Paganisme luidens
verskillende internet-webtuistes een van die snel groeindste
godsdienstige bewegings in die VSA is en ook vinnig besig is om
veld te wen in Suid-Afrika, word dit steeds met vyandigheid deur
oningeligtes bejeën - hoofsaaklik oor die vrees dat dit met
duiwelaanbidding te doen het.
"Ons erken Satan nie as een
van die gode nie. Hy is 'n skepping wat nog net 2 000 jaar oud
is. Die gode wat ons aanbid, is 30 000 jaar oud," sê
Darkwolf.
Sy meen dat daar tot 50 000
Paganiste in Suid-Afrika is.
Op die PFSA se webwerf word
Paganisme soos volg beskryf: "Natuur-gegronde
religieus-spirituele geloofs- en praktykstelsels wat die natuur
erken as 'n manifestasie van goddelikhied."
Vir Paganiste is die natuur dus
belangrik en daar word geprobeer om in harmonie daarmee saam te
leef. Regdeur die jaar word verskeie seremonies gehou om die
seisoene te vier.
Die huis in Houghton Estate waar
die nuwe kerk bedryf word, is in 'n groot tuin geleë - 'n
gepaste plek vir mense wat die natuur aanbid. Terwyl kerkrituele
buite sal plaasvind, sal die huis gebruik word as 'n hawe vir
mense wat meer oor Paganisme wil leer.
Dit sal ook gebruik word vir
terapie - van die hekse is opgeleide sielkundiges - en ander
alternatiewe praktyke soos divinasie en die lees van
tarotkaarte.
Soos 'n mens van hekse kan
verwag, beoefen die hedendaagse Wiccans ook towery.
By 'n onlangse byeenkoms het 'n
groep hekse 'n towerritueel uitgevoer waardeur een van die
Wicca-susters liefde moes vind. Die ritueel het onder meer
daaruit bestaan dat 'n poppie van wit lap met allerlei kruie
gevul is. Elke heks het sy of haar eie krui gekies en dit in die
poppie gesit.
Van die kruie simboliseer
soetheid in die liefde, ander langdurige liefde en natuurlik ook
vurige seks en wellus.
Maar nie alle Wicca-hekse
beoefen towerrituele nie. Dit bly 'n persoonlike keuse.
Weer eens is daar by
oningeligtes vrees dat towerkrag negatief gebruik word. Verskeie
hekse wat by Sondag se seremonie was, sê egter dat hulle nie
swart towerkrag (black magic) beoefen nie. "Ons doelwit is
om in vrede met ons medemens, die natuur en ander godsdienste te
leef," was die algemene opsomming.
Verskeie verwysings op die
internet gee ook die Wiccan-slagspreuk as volg: "If it
harms none, do what you will." Solank hulle niemand leed
aandoen nie, kan Wiccans dus doen wat hulle wil.
Tot dusver het Paganiste in
Suid-Afrika op 'n ongestruktureerde wyse hul oortuigings
uitgeleef. Talle groepe het ontstaan net om gou weer te ontbind.
Net die PFSA het daarin geslaag om sewe jaar te oorleef.
Die ATC se belangrikste funksie
sal waarskynlik wees om uiteindelik 'n struktuur te bied wat
Paganiste riglyne en 'n landwye onderstueningstelsel bied. Dit
bied ook 'n plek vir nie-Paganiste om eerstehands te sien hoe
die geloof beoefen word.
"Hekse is vir soveel jare
vervolg en gevrees. Ons het nou, binne die raamwerk van
godsdiensvryheid wat in die grondwet verskans word, die reg om
ons oortuigings openlik uit te leef," sê Darkwolf.
"Enigiemand is welkom om
die ATC te besoek - en self te sien dat ons nie besig is met
donker dinge nie."
"Voordat
die seremonie begin, kuier die hekse eers. Die rookwolke van
verskeie sigarette dwarrel deur die lug. Daar is mans en vroue
in blou, wynrooi en wit togas. Sigaret in die een hand, wynglas
is die ander bespreek hulle allerlei sake."
[Top
of the page]
|