| Die ritueel begin
laat - omtrent 'n uur later as the beoogde tyd, want van die
hekse is laat. En daar moet gewag word vir almal.
Daar is niks sinisters aan dié
besluit nie. Dis bloot hoflikheid om mense wat nog nie voorheen
by die perseel was nie kans te gee om op te daag word gesê.
Die aanwesiges - uiteindelik is
daar sowat 50 mense - woon die seremonie by om deel te neem aan
die inwyding van die Aquarian Tabernacle Church (ATC). En om
Storm Dancer, die nuwe leier van die Gautengse kapel van die
Pagan Federation of South Africa (PFSA) en sy vrou, Willow
Weaver, in te seën.
Hulle neem die leisels oor by
Darkwolf, 'n fyn vroutjie wat die afgelope sowat sewe jaar die
geestelike leier van Paganiste regoor Suid-Afrika is. Sy verlaat
Gauteng later vandeesweek om as geestelike leier vanuit Kaapstad
die boodskap van Wicca en Paganisme te versprei.
Daar word na Darkwolf verwys as
reverend. Ná die inwydingseremonie sal Storm Dancer ook as
reverend aangespreek word. "Ons wil graag nouer samewerking
met ander godsdienstige groepe hê. Dié bekende term wys vir
mense van ander godsdienste dat ons reverends op dieselfde vlak
as hulle s'n is," verduidelik Storm Dancer.
Die meeste hekse is Afrikaans.
Maar hulle praat hoofsaaklik Engels omdat daar nog nie
Afrikaanse terme vir die na bewering eeue oue rituele is nie.
Vooraf kuier die hekse eers. Die
rookwolke van verskeie sigarette dwarrel deur die lug. Daar is
mans en vroue in blou, wynrooi en wit togas. Met sigaret in die
een hand, wynglas in die ander bespreek hulle allerlei sake.
Dus: 'n groep wat 'n mens
waarskynlik by enige partytjie sou teëkom. Behalwe dat hul
togas nie juis die sort klere is wat jy by die gemiddelde
partytjie sien nie. En ja, van hulle lyk ietwat vreemd, met
groot bosse pikswart hare en eienaardige juweliersware aan hul
vingers en arms.
'n Pentagram pryk ook om elke
aanwesige se nek. Dis 'n belangrike simbool van die Paganisme.
Die inwydingsrituele vind ook later plaas in 'n pentagram wat op
die gras getrek is.
Dié vyfhoekige ster (met een
punt wat na boontoe wys) is al jare lank die simbool van die
Paganisme. Maar dit word deur oningewydes as 'n satanistiese
simbool beskou, verduidelik Wiccans.
Soos met talle simbole die geval
is, is ook dié simbool oor die jare op verskeie maniere
geïnterpreteer. Kort ná Christus se kruisdood was die vyf
punte byvoorbeeld simbolies van die vyf wonde van Jesus aan die
kruis. Eers later het die omgekeerde pentagram simbolies geword
van die duiwel en is dit met boosheid verbind.
Die perseel in Houghton Estate
behoort aan een van die lede van die PFSA. Paganisme is 'n
sambreelterm wat gebruik word om verskillende alternatiewe
godsdienste saam te snoer, soos Wicca, sjamanisme, Druidisme,
Noorse rituele en vele ander.
Hoewel die inwydingseremonie van
die ATC dié van 'n Wicca-kerk is, word alle individue wat
hulself as Paganiste beskou hier verwelkom.
Maar wat is Wicca?
Eenvoudig gestel is dit 'n term
waarmee 'n bepaalde sort hedendaagse hekse en towerkrag te
beskryf.
Die bestaan van sogenaamde hekse
kan teruggevoer word na matriargale stelsels wat dateer van 30
000 v.C tot ongeveer 2 500 v.C. In dié gemeenskappe is wyse
vroue en die natuur vereer. Die opkoms van die patriargie het
egter vrees vir dié vroue aangewakker en van die Renaissance
tot in die 18de eeu is letterlik op hulle jag gemaak. Talle
vroue wat "vreemd" was, het op brandstapels beland of
is in riviere gegooi met swaar gewigte aan hulle vasgemaak.
As godsdiens is Wicca, luidens
'n beskrywing op die internet
(religioustolerance.org/wic_hist.htm), gedeeltelik gegrond op
antieke Paganistiese gebruike uit Noord-Europa.
Wiccans aanbid 'n godin en 'n
god, na wie Darkwolf en haar volgelinge verwys as Our Lady en
Our Lord.
"Dit is generiese terme wat
'n godheid aandui," verduidelik sy.
Howel die Paganisme luidens
verskillende internet-webtuistes een van die snels groeinde
godsdiensbewegings in Amerika is en ook vinnig veld wen in
Suid-Afrika, word dit steeds met vyandigheid deur oningeligtes
bejeën - hoofsaaklik oor die vrees dat dit met duiwelaanbidding
te doen het.
"Ons erken Satan nie as een
van die gode nie. Hy is 'n skepping wat nog net 2 000 jaar oud
is. Die gode wat ons aanbid, is 30 000 jaar oud," sê
Darkwolf. Sy meen dat daar tot 50 000 Paganiste in Suid-Afrika
is.
Op die PFSA se webwerf word
Paganisme soos volg beskryf: "Natuur-gegronde
religieus-spirituele geloofs- en gebruikstelsels wat die natuur
erken as 'n manifestasie van goddelikhied."
Vir Paganiste is die natuur dus
belangrik en hulle probeer om in harmonie daarmee te leef.
Regdeur die jaar word rituele gehou om die seisoene te vier.
Die huis in Houghton Estate waar
die nuwe kerk bedryf word, staan in 'n groot tuin - 'n gepaste
plek vir mense wat die natuur aanbid. Terwyl rituele buite sal
plaasvind, sal die huis 'n hawe wees vir mense wat meer oor
Paganisme wil leer. Dit sal ook gebruik word vir terapie - van
die hekse is opgeleide sielkundiges - en ander praktyke soos
divinasie en die lees van tarot-kaarte.
Soos 'n mens van hekse kan
verwag, beoefen die hedendaagse Wiccans ook towery.
By 'n onlangse byeenkoms het 'n
groep hekse 'n towerritueel uitgevoer waardeur een van die
Wicca-susters liefde moes vind. Die ritueel het onder meer
daaruit bestaan dat 'n wit lappoppie met allerlei kruie gevul
is. Elke heks het sy of haar eie krui gekies en dit in die
poppie gesit. Van die kruie simboliseer soetheid in die liefde,
ander langdurige liefde en natuurlik ook vurige seks en wellus.
Maar nie alle Wicca-hekse
beoefen towerrituele nie. Dit bly 'n persoonlike keuse.
Weer eens is daar by
oningeligtes vrees dat towerkrag negatief gebruik word. Verskeie
hekse wat by die inwyding was, sê dat hulle nie swart towerkrag
(black magic) beoefen nie. "Ons doelwit is om in vrede met
ons medemens, die natuur en ander godsdienste te leef," was
die algemene opsomming.
Verskeie verwysings op die
internet gee ook die Wiccan-slagspreuk: "If it harms none,
do what you will." Solank hulle niemand leed aandoen nie,
kan Wiccans dus doen wat hulle wil.
Tot dusver het Paganiste in
Suid-Afrika ongestruktureer hul oortuigings uitgeleef. Talle
groepe het ontstaan net om gou weer te ontbind. Net die PFSA het
daarin geslaag om sewe jaar te oorleef.
Die ATC se belangrikste funksie
sal waarskynlik wees om uiteindelik 'n struktuur te bied wat
Paganiste riglyne en 'n landwye onderstueningstelsel bied. Dit
bied ook 'n plek vir nie-Paganiste om eerstehands te sien hoe
die geloof beoefen word.
"Hekse is vir soveel jare
vervolg en gevrees. Ons het nou, binne die raamwerk van
godsdiensvryheid wat in die Grondwet verskans word, die reg om
ons oortuigings openlik uit te leef," sê Darkwolf.
"Enigiemand is welkom om die ATC te besoek - en self te
sien dat ons nie besig is met donker dinge nie."
[Top
of the page]
|