[In the Media][Articles]
Heksery
Die Duiwel se witleuen?

Article originally appeared in "Lig", August 2001

Die wêreld van hekse, toorkrag en Paganisme wat tot onlangs vir die meeste mense heeltemal vreemd. Tog het die eerste Paganiste kerk, die Aquarian Tabernacle Church van die Wicca-beweging, reeds sowat 50 000 lede in Suid-Afrika. Is dit iets waaroor Christene bekommerd moet wees?

Die volmaan gooi spookagtig skaduwees oor die groepie figure wat in lang gewade in die bos staan. Die vroue-priester begin deunsig: "May the powers of The One, the source of all creation…. 'Met die rituele-mes in die hand beweeg sy rond en baken sy simbolies 'n denkbeeldige sirkel af. Sy begin weer sing… "Horned Hunter of the Sun; may the powers of the Spirits of the Stones … bless this place, and this time, and I who am with you…" Dis vanaand "Samhain", die Hekse se Nuwejaar. Die ritueel begin. Diana, die Groot Moeder word opgeroep… Die wêreld van hekse, toorkrag en Paganisme is vir die meeste mense heeltemal vreemd. Tot onlangs, toe daar in die media berig is oor die stigting van die eerste Paganistiese kerk, die Aquarian Tabernacle Church van die Wicca-beweging, onder leiding van die vroue-priester Donna Darkwolf Vos. Wicca is deel van die wêreldwye neo-Paganistiese beweging wat tans ongekende groei beleef, en in Suid-Afrika reeds sowat
50 000 lede het. Die vrae begin vermenigvuldig: Paganiste? Wicca? Hekse? Waaroor gaan dit eintlik?

Paganisme verwys na die ou heidense natuurgerigte godsdienste wat in 'n veelgodedom geglo het. Wicca as neo-Paganistiese beweging, is 'n herlewing van dié ou antieke natuur- en Paganistiese godsdienste, en verteenwoordig een van die godsdienste waarby hedendaagse hekse betrokke is. Heks beteken die wyse een, of iemand wat toorkuns beoefen. Wicca dui op 'n manlike of vroulike heks wat die vaardigheid het om die werklikheid te buig of te verander.

Maar wat glo neo-Paganiste?

  • Hulle glo in die alomteenwoordigheid van 'n kreatiewe mag in die skepping, en verwys soms daarna as Die Een, of Die Al. Hierdie godheid bestaan uit talle gode, maar sentraal staan 'n vroulike god (wat as "Die Godin" of "The Lady" aangespreek word) en ondergeskik aan haar, 'n manlike god (ook "Pan" of die "Gehoringde god" genoem").
  • Alles in die skepping - mense, diere, plante, selfs sterre en planete - het deel aan en besit hierdie godheid. Omdat goddelike kragte in alles is, is daar eintlik geen verskil tussen die mens en die omgewing nie, dit word die panteïsme genoem.
  • Die kragte waaroor mense beskik, en wat die gode het, word volgens Donna Vos deur bepaalde rituele, magie en towerspreuke bymekaar uitgebring. Dit manifesteer in gebeure, soos dat jy 'n werk kry (as jy die god daarvoor vra), of dat 'n verhouding ontstaan (as jy op iemand verlief is en die god vra om in te gryp). Die handleiding van neo-Paganiste, Book of Shadows, noem ook dinge soos gebede, meditasie, dreunsang, danse, astrale projeksies en rituele seks om met die gode te kommunikeer.
  • Die rituele word in 'n sirkel uitgevoer wat op die grond met klippe uitgepak, of met 'n staf of rituele mes op die grond, of simbolies in die lug, getrek word. Hierdie sirkel simboliseer die "goddelike" waaraan elke mens in sy diepste wese deel het, en "kontak" met "Die Godin" en gode geskeid gewoonlik tydens hekse-byeenkomste in hierdie ruimte.
  • Die vyf natuur-elemente (aarde, water, wind, vuur en gees), soos voorgestel deur 'n pentagram (die vyf-punt-ster), kom dikwels in Wicca voor. Waar satanisme die pentagram gebruik met die drie punte wat na onder wys, wys dit by neo-Paganiste met een punt na bo.
  • Die hele aarde is vir Wicca heilig, en byeenkomste word verkieslik in die natuur gehou. Plekke waar natuur-elemente mekaar ontmoet, soos waar watervalle deur die lug tuimel, of die see en land mekaar op strande ontmoet, word as besonder heilig beskou. Naaktheid en seks is dikwels deel van hierdie rituele. 'n Altaar word in die sirkel geplaas waarop vier van die natuur-elemente uitgestal word ('n kers vir vuur, 'n kristal vir grond, wierook vir lug en 'n bakkie water).
  • Baie van die feeste wat Wicca en neo-Paganiste hou, is seisoenaal of hou verband met die son se bewegings, en het ou Keltiese name. Die bekendste is die "Samhain" of "Hallow'en" wat op 31 Oktober/1 November gehou word. Tydens hierdie fees word daar met die siele van afgestorwenes gekommunikeer (Deut 18 vanaf vers 9 en Heb 9:27). Briewe word ook vir afgestorwenes geskryf wat dan deur die "Samhain-vuur" na die Anderwêreld gestuur word.
  • Eties het die neo-Paganiste net een reel: Harm None, Do As Thou Wilt ("As dit niemand benadeel nie, is dit aanvaarbaar"). Omdat hulle glo dat alle mense, plante, en die aarde eintlik een is weens die "goddelike" in alles, glo hulle dat, sou jy die natuur besoedel, of 'n ander mens te na kom, jy eintlik jouself benadeel.
  • Neo-Paganiste glo nie in Jesus Christus as Verlosser, of die Bybel as die Woord van God, of dat daar 'n duiwel is nie. "Satan", glo hulle, is 'n uitvindsel van die Christendom, en - volgens Donna Vos - 'n 2 000 jaar oue mite.

Wat sê die Bybel

Die Bybel veroordeel heksery en towery baie duidelik (Lev 19:26, 31; Deut 18:10-12; 2 Kron 33:6). God maak geen geheim daarvan nie dat Hy die enigste ware God is, en dat die aanbidding van ander gode of godinne verkeerd is (Eks 20:3; Kon 11:4-5).

Volgens Kobus Jonker, voorheen betrokke by die Suid-Afrikaanse Polisiediens, is daar geen direkte verband tussen Wicca en satanisme nie.

Hy vertel: "Ek kry baie te doen met kinders van 15 en 16 jaar oud wat boeke oor Wicca koop (wat vryelik beskikbaar is), en dan die rituele begin beoefen. Baie keer is magshunkering 'n motief, en gebruik hulle dit om 'n vloek op hulle ouers of op 'n kêrel te plaas. Wanneer iemand nie 'n Christen is nie, werk hierdie goed. As jy nie die verskil tussen Wicca en satanisme ken nie, kan jy die twee maklik verwar omdat baie rituele met mekaar ooreenstem. Hoewel Wicca sê hulle is wit-hekse, en alles doen wat goed is, maak hulle gebruik van hekse-spelle wat nie van God af kom nie, maar demoniese magte is. Waar neo-Paganiste meer ingestel is op die natuur, het sataniste meer met bloed en swart (bose) magie te doen." Kobus vertel dat die bevryding van neo-Paganiste gewoonlik met manifestasies gepaardgaan.

Volgens prof Johan Janse van Rensburg van Bloemfontein het Wicca en neo-Paganistiese bewegings duidelike New Age verbintenisse. "Die ooreenkomste is so kenmerkend dat 'n mens nie tot 'n ander gevolgtrekking kan kom nie." Hy verwys byvoorbeeld na die rol van kristalle in die daarstelling van magiese kragvelde, die oordrewe waardering en aanbidding van die natuur, en die natuur-elemente soos vuur, son, wind en water wat by beide aangewend word.

Oor die magte wat Wicca aanroep, sê prof Janse van Rensburg: "Ons sal dit in terme van die okkultisme moet verstaan. Die okkulte dui op die dinge wat verborge is, dinge waarvoor ons nie natuurlike verklarings het nie. By die Wicca word hierdie okkultiese magte of kragte deur rituele opgeroep en vir religieuse doelwitte aangewend. Hoewel hulle beweer dat die doel van Wicca nie dieselfde as dié van satanisme is nie, word hierdie okkultiese magte op dieselfde wyse, en waarskynlik deur dieselfde tegnieke, verkry. En hoewel hulle hierdie kragte nie assosieer met die magte van die bose nie, maar dit natuurkragte noem, is die magte wat uiteindelik só bekom word méér as blote natuurmagte."

Volgens dr Lien Els, mede-skrywer van die boek Satanism in South Africa, is die Wicca-beweging in Amerika veral gewild onder feministe en sluit baie "bevryde" vroue daarby aan - juis omdat Jesus of die Christelike God in die tradisionele kerke altyd as manlik voorgestel word.

Maar waarom is Paganisme skielik so gewild? Prof Janse van Rnsburg skryf dit in die eerste plek toe aan die gebroke sondige natuur van die mens wat eerder na die Bose as na die Lig neig. "By die sondeval was dit juis die nuuskierigheid om dít wat verborge is, te weet, wat rampspoedige gevolge gehad het. Hierdie inherente nuuskierigheid word vandag op verskillende maniere deur die media uitgebuit deurdat die okkulte dikwels op so 'n aanskoulike wyse aangebied en voorgestel word dat 'n mens se verbeelding daardeur aangegryp word: jy sien byvoorbeeld voor jou oë hoe 'n mens in 'n monster verander.

"Die gevolge is dat jongmense en kinders dikwels 'n obsessie oor demone ontwikkel, en dan allerlei demone in hulle skoolboeke en op hulle tasse begin teken. Hierdie obsessie word gestimuleer deur die verborgenheid van hierdie dinge."

As 'n mens na die sentrale gedagtegang van die neo-Paganisme kyk, is dit ten diepste net nóg 'n desperate poging van die mens om by die ware God uit te kom. Maar omdat hulle vir Jesus as Verlosser misken, word hierdie mense uiteindelik hulle eie god. Omdat die mens volgens hulle reeds wesenlik een met die godheid is, lei dié siening saam met die magte wat tot hulle beskikking gestel word, maklik tot 'n selfvergoddeliking. God word uiteindelik gereduseer tot 'n onpersoonlike, allesdeursurende "beginsel".

Om niemand seer te maak nie, is ook relatief. Om jou eie voordeel te bewerk, gaan jy per implikasie ander benadeel. "Do as thou wilt" stel 'n wellustige, losbandige lewe voor wat die Bybel ten sterkste afkeur (Rom 1).

Hierteenoor vertel die Christelike geloof juis van 'n almagtige God wat in sy Seun na die wêreld gekom het. Ek kan myself nie red nie, maar word gered, alleen deur God se Seun, en deur die genade alleen. Om nie aan Satan te glo nie, beskerm jou ook geensins teen Satan of die okkulte nie. Ons stryd is, waarsku Paulus in Efesiërs, nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose geeste in die lug (Ef 6: 12).

[Top of the page]